fbpx

Vrywaringskennisgewings

Vrywaringskennisgewings bied beskerming aan eienaars en werknemers van winkelsentrums, stadions, parkeerareas en ander publieke areas. Alvorens hierdie  vrywaringskennisgewings effektief is, moet die kennisgewings aan bepaalde vereistes voldoen. Om verkeerdelik op hierdie vrywaringskennisgewings te steun, kan ʼn baie duur fout wees. Bepaal of die betrokke vrywaringskennisgewing voldoende is om jou en jou werknemers te beskerm.

Vrywaringskennisgewings word dikwels in winkelsentrums, stadions, parkeerareas en ander publieke areas gesien. Hierdie vrywaringskennisgewings word gebruik om die eienaar of werknemers van die tersaaklike area te beskerm, deur hom/haar vry te spreek van aanspreeklikheid, indien ʼn lid van die publiek van hierdie bepaalde area gebruik maak.

Vanuit regspraak blyk dit duidelik dat vrywaringskennisgewings wel afdwingbaar is, indien die kennisgewing op die korrekte wyse toegepas word. Die afdwingbaarheid van die vrywaringskennisgewings blyk duidelik vanuit die onderstaande uittreksel:

Durban’s Water Wonderland (Pty) Ltd v Botha and Another (168/97) [1998] ZASCA 115; [1999] 1 All SA 411 (A)

“If the language of a disclaimer or exemption clause is such that it exempts the proferens from liability in express and unambiguous terms effect must be given to that meaning. If there is ambiguity, the language must be construed against the proferens. (See Government of the Republic of South Africa v Fibre Spinners & Weavers (Pty) Ltd 1978 (2) SA 794 (A) at 804 C.)”

Volgens regspraak, moet twee belangrike faktore oorweeg word om te bepaal of ʼn vrywaringskennisgewing wel afdwingbaar is.

Eerstens, uit die Durban’s Water Wonderland-saak, is dit duidelik dat die betrokke  kennisgewing slegs effektief is, indien die bewoording van die kennisgewing nie dubbelsinnig is nie. ʼn Definitiewe vereiste is dus dat die kennisgewing duidelik en sonder enige dubbelsinnige bewoording uiteen gesit moet word. Die bewoording moet van so ’n aard wees dat die Verweerder gevrywaar word wanneer die publiek die kennisgewing lees. Dit moet egter bygevoeg word dat enige alternatiewe betekenis aan die kennisgewing nie te wyd geïnterpreteer moet word nie. Daar word dus bloot verreis dat die inhoud en betekenis van die kennisgewing duidelik is aan enigiemand wat dit lees. Hierdie toets word geïmplementeer sodat ʼn vae en dubbelsinnige stelling nie as voldoende beskou word om die publiek te bind volgens die sogenaamde “quasi mutual assent”-leerstuk nie. Hierdie leerstuk is die onderliggende regsbasis wat ʼn persoon bind aan die inhoud van ʼn vrywaringskennisgewing.

Die volgende voorbeelde van bewoording kan oorweeg word: “Die eienaar van die eiendom word hiermee gevrywaar” of “die eienaar, besturende agent en enige ander werknemer word hiermee gevrywaar” In die eerste voorbeeld word slegs die eienaar van die eiendom gevrywaar terwyl die tweede voorbeeld ook die besturende agent van ʼn eiendom asook enige werknemer vrywaar. Die eerste voorbeeld sou nie voldoende gewees het indien die skade aan ʼn lid van die publiek veroorsaak was deur die nalatigheid van ʼn werknemer nie, aangesien werknemers duidelik nie binne die bestek van die kennisgewing geval het nie. Dit is dus belangrik om te verseker dat die inhoud van ʼn vrywaringskennisgewing duidelik, verstaanbaar en voldoende is om alle partye te beskerm wat beskerming nodig het.

ʼn Verder kwessie wat ingedagte geneem moet word, wanneer die afdwingbaarheid van ʼn vrywaringskennisgewing oorweeg word, is die vraag of die kennisgewing duidelik sigbaar is. Die kennisgewing kan slegs afdwingbaar wees indien dit behoorlik vertoon is, sodat lede van die publiek dit gesien het of dit behoort te gesien het. Praktiese kwessies, soos die grootte van die kennisgewing, die afstand tot by die kennisgewing, die sigbaarheid daarvan, die lettergrootte en – tipe en die posisionering van die kennisgewing moet ook in ag geneem word. Hierdie toets word geïmplementeer aangesien die inhoud daarvan slegs binne die kennis van die lid van die publiek beskou kan word, indien die kennisgewing van so aard was dat die publiek dit maklik kon raaksien. Wanneer ʼn vrywaringskennisgewing dus gebruik word, moet die bogenoemde faktore in gedagte gehou word.

Dit is duidelik dat ʼn vrywaringskennisgewing ʼn effektiewe metode van beskerming kan wees, veral wanneer dit gebruik word in areas wat lede van die publiek dikwels besoek. Die gebruik van ʼn vrywaringskennisgewing is egter ʼn potensiële problematiese praktyk, aangesien daar verseker moet word dat die bewoording en plasing van die kennisgewing voldoende is om daarop te steun. Daar word aanbeveel dat ʼn prokureur die bewoording van die kennisgewing moet nagaan, voordat dit in gebruik geneem word.

Verwysingslys
Sake
Durban’s Water Wonderland (Pty) Ltd v Botha and Another (1999) 1 All SA 411 (A)
Government of the Republic of South Africa v Fibre Spinners & Weavers (Pty) Ltd 1978 (2) SA 794 (A)

Hierdie artikel is ‘n algemene inligtingstuk en moet nie gebruik of staatgemaak word op as professionele advies nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of vir enige verlies of skade wat voortspruit uit vertroue op enige inligting hierin nie. Kontak atyd jou finansiële adviseur vir spesifieke en gedetailleerde advies.