Bedrog met jou CV kan meebring dat jy daardie onverdiende salaris moet terugbetaal.

“Oh, what a tangled web we weave, when first we practice to deceive!” (Sir Walter Scott)

Die maatskappy wat die V&A Waterfront in Kaapstad bestuur, het in Oktober 2015 ’n hoofinligtingsbeampte aangestel. ’n Jaar later het ’n kredietondersoek teenstrydige inligting oor die beampte na vore gebring. Die inligting was in teenstelling met wat sy tydens haar onderhoud gesê het. Die maatskappy het haar werksgeskiedenis in diepte begin ondersoek.

Sy is in Desember 2016 ná ’n dissiplinêre ondersoek ontslaan. Hierna het die maatskappy haar in die Arbeidshof gedagvaar vir die verliese wat dit gely het. Ten spyte van meer as genoeg geleenthede om te getuig, het sy daarteen besluit. Sy het ook nie die maatskappy se getuienis betwis of aan enige kruisverhoor onderwerp nie.

Wat het sy vir die werkgewer gesê?

Tydens die destydse onderhoud met die maatskappy het sy  gesê dat sy haar drie vorige werkgewers se diens vrywillig verlaat het. Die eerste as gevolg van ‘n samesmelting, die tweede een omdat sy gewerf was na ‘n nuwe werkgewer en die derde een vir loopbaanontwikkeling. In werklikheid was sy deur al drie haar vorige werkgewers afgedank. Twee weens wangedrag en een weens swak prestasie.

Sy het ook nooit genoem dat sy nog steeds by ’n universiteit gewerk het nie, wat haar steeds ’n salaris betaal het terwyl sy vir die maatskappy gewerk het nie. Die hof bevind dat sy hierdeur die reël dat skriftelike toestemming vir buite‑indiensneming verkry moet word, verbreek het. Die hof bevind ook  dat dit ’n oortreding was van haar plig tot goeie trou. Dit alleen sou genoeg gewees het om haar dienskontrak te kanselleer.

Toe die maatskappy haar R700 000 per jaar aangebied het, het sy ’n brief gestuur waarin sy beweer het dat die universiteit haar ’n beter betaalde pos aangebied het. Die universiteit het in werklikheid geen aanbod aan haar gemaak nie. Hierna het die maatskappy haar aanbod tot R850 000 verhoog.

Waarom was die skadevergoeding gelyk aan haar vergoeding?

Die hof bevind dat die werkgewer haar nooit in diens sou geneem het as dit van haar werklike werksgeskiedenis geweet het nie. Die hof beslis dat die werkgewer geregtig was om die kontrak te kanselleer en terug te keer na die posisie waarin dit sou gewees het, indien die werkgewer haar nooit in diens geneem het nie.

Die getuienis het verder aangetoon dat sy nie ’n enkele taak ingevolge opdrag voltooi het nie. Sy het haar werksure inteendeel vir haar privaat besigheid gebruik. Aangesien die werkgewer geen waarde uit haar dienste verkry het nie, het die hof skadevergoeding gelykstaande aan haar vergoeding toegeken.

Die toekenning was R1 031 237,46, wat die totale kostes van haar pos vir die werkgewer was. Haar netto salaris het R597 114,40 beloop.

Wat van die konsultante?

Tydens haar dienstydperk het sy gereël dat die maatskappy se uitgekontrakteerde IT-diensverskaffer twee konsultante aanstel, wat vir haar private onderneming gewerk het. Sy het versuim om hierdie verbintenis te openbaar. Ingevolge die maatskappy se verkrygingsbeleid moes alle verhoudings met verskaffers op ’n armlengte‑basis en vry van belangebotsings wees.

Die hof het bevind dat die konsultante waarskynlik nie aangestel sou gewees het as sy eerlik en in goeie trou opgetree het nie. Die hof het haar beveel om persoonlik R1 866 005 aan die werkgewer te betaal as skadevergoeding vir die konsultante se fooie. Hierdie hofbevel was teen haar as voormalige werknemer, nie teen die twee konsultante nie.

Die totale hofbevel teen haar was vir die betaling van skadevergoeding van R2 897 242,46 plus rente en regskoste.

Wat beteken dit vir werkgewers?

Die hof se bevinding dat die werkgewer geen waarde uit haar dienste verkry het nie, was hier deurslaggewend vir die toekenning ten opsigte van vergoeding. Die uitspraak beteken nie dat elke leuen of wanvoorstelling op ’n CV outomaties veroorsaak dat ’n werknemer alles wat hy of sy verdien het, moet terugbetaal nie.

Dit toon wel dat ‘n werkgewer wat mislei is om iemand aan te stel, wel vir die verliese kan dagvaar nadat die werknemer afgedank is.

Voorkoming is beter as genesing

Doen jou navorsing  voordat jy iemand aanstel. Vra kandidate of hulle bedank het, afgedank is, of die diens verlaat het ingevolge ‘n skikking. Dan moet jy hierdie antwoorde direk by die vorige werkgewers verifieer. Maak ook seker van enige mededingende aanbod wat gebruik word om ’n hoër salaris te onderhandel en te beding. Só kan jy oneerlikheid uitwys voordat dit ’n duur probleem word.

Staan jy op die punt om iemand in ‘n senior pos aan te stel, of is jy bekommerd dat ‘n werknemer jou mislei het om die pos te kry? Praat met ons oor jou opsies.