Het jy werklik ses soorte testamente nodig?

“One ring to rule them all.” (Aanhaling uit JRR Tolkien se The Lord of the Rings)

Wanneer jy wil seker maak dat jy self besluit oor wie wat uit jou boedel erf, is daar net “een testament wat almal oorheers”. Ons regstelsel erken slegs een soort testament – jou “persoonlike testament”, oftewel jou “Laaste Testament en Wilsbeskikking”.

Wat dan van die voorstelle om ook ’n hele reeks ander soorte testamente op te stel? Het ons werklik ook ’n “buitelandse testament”, ’n “digitale testament”, ’n “besigheidstestament”, ’n “etiese testament” of selfs ’n “lewende testament” nodig?

Om na al hierdie dokumente as “testamente” te verwys is deel van die verwarring. Dit sal veral ’n probleem wees as iemand hul persoonlike testament, wat deur die Wet op Testamente erken word, in die proses om aan al die ander “testamente” aandag te gee, sou verwaarloos. Hierdie ander soorte “testamente” kan wel in toepaslike gevalle nuttig wees.

Ons sal hierna een vir een na hulle almal kyk, maar kom ons begin met die een en enigste testament.

Een testament om oor almal te heers.

Dit staan dikwels bekend as jou “persoonlike testament” of “Laaste Testament en Wilsbeskikking “. Dit is moontlik die belangrikste dokument wat jy ooit sal onderteken. Dit kan jou persoonlike testament wees of jou gesamentlike testament wat jy met jou gade of lewensmaat opstel; dit is die enigste manier om te verseker dat jou laaste wense en aanwysings nagekom word. Dit verseker dat jou bates volgens jou aanwysings aan jou gekose erfgename toegedeel word, terwyl jy ook self die eksekuteur van jou boedel aanwys as iemand wat jy vertrou om met professionaliteit, integriteit en doeltreffendheid op te tree.

Aangesien jou testament die kern van jou boedelbeplanning vorm, is dit vanselfsprekend dat dit deur ’n professionele persoon opgestel moet word. Dit moet duidelik, toepaslik en bondig wees om enige latere twyfel of geskil onder erfgename te voorkom. Dit moet ook voldoen aan al die formaliteite wat deur die Wet op Testamente vereis word.

Dit moet ’n fisiese dokument op papier wees, op skrif (handgeskrewe, getik of gedruk) en jy moet jou testament in die teenwoordigheid van twee bevoegde getuies onderteken. Hierdie vereiste mag dalk in die toekoms verander soos wat ons wetgewing ontwikkel om elektroniese of videotestamente te erken. Op hierdie stadium bly ’n fisiese dokument, op papier, wat met ink onderteken is tans noodsaaklik. Indien jy dalk ’n testament nalaat wat nie aan die voorgeskrewe vereistes voldoen nie, sal jou erfgename die hof moet nader vir ‘n hofbevel om die testament geldig te laat verklaar – ’n resep vir onsekerheid, vertraging, koste en geskille op die slegste moontlike tyd vir jou naasbestaandes.

Waar pas ’n “gesamentlike testament”, ’n “wedersydse testament” of selfs ’n “spieëltestament” in? Dit is dikwels nuttig vir paartjies wat hul persoonlike testamente wil kombineer of met wedersydse bepalings aan mekaar wil koppel. Hierdie meer komplekse testamente en die moontlike gebruik daarvan sal  van jul persoonlike omstandighede afhang, sowel as ander regs-, boedel- en belastingoorwegings. Raadpleeg ons gerus vir advies wat vir jul unieke situasie van toepassing sal wees.

Het mens dan ook ‘n buitelandse testament nodig?

Indien jy wel bates in die buiteland het, mag dit dalk gepas wees om ook ‘n buitelandse testament te laat opstel, saam met jou Suid‑Afrikaanse testament. Hier het jy gespesialiseerde advies nodig om te verseker dat beide testamente geldig is, dat hulle met mekaar versoenbaar bly en dat jou belasting‑ en boedelbeplanning doeltreffend is.

Wat van ’n “digitale testament”?

’n Moderne konsep wat deesdae al hoe gewilder word is die sogenamade “digitale testament”. Dit is belangrik om te weet dat hierdie geensins ’n plaasvervanger vir jou persoonlike testament is nie; dit regverdig ook nie dat jy jou persoonlike testament elektronies of aanlyn opstel nie.

Jou “digitale testament” is nie die instrument waarmee jy jou digitale bates aan iemand gaan nalaat nie; jy moet dit steeds duidelik in jou persoonlike testament doen. Die “digitale testament” is eerder ‘n instrument waarin jy al jou digitale bates en aanlynprofiele kan lys en waarin jy kan aandui hoe jou eksekuteur eendag toegang daartoe kan kry. Dit is ook ‘n geleentheid vir jou om riglyne te gee oor hoe jou sosialemedia rekeninge hanteer en gesluit moet word.

Vier voorstelle:

  1. Om verwarring met jou werklike (jou persoonlike) testament te vermy, moet jy eerder glad nie daarna as ‘n “testament” verwys nie. Noem dit eerder jou digitale wense, of digitale portefeulje, of digitale aanwysings of iets soortgelyks.
  2. Tref ‘n duidelike onderskeid met jou persoonlike testament deur dit in ‘n aparte dokument op te neem. As jy nog nie ‘n “Notas”-lêer het wat al die inligting en dokumente bevat wat jou eksekuteur en erfgename by die bereddering van jou boedel sal benodig nie, is dit nou ‘n goeie tyd om een te begin.
  3. Maak seker dat jou lys omvattend is, anders sal jou erfgename dalk nooit weet van die kripto-bates wat jy met soveel moeite vir hulle bymekaargemaak het nie.
  4. Moet nooit wagwoorde, PIN‑nommers of ander aanteken- en sekuriteitsinligting in ’n gewone dokument aanteken nie. Oorweeg ’n betroubare wagwoordbestuurder wat ook ’n noodtoegang‑funksie bied.

Het jy ‘n testament vir jou besigheid nodig?

As jy ‘n besigheid besit, dink na oor wat met die besigheid moet gebeur as jy hipoteties gesproke môre deur die spreekwoordelike bus omgery word. Regtens moet jy jou besigheid as ‘n bate (byvoorbeeld as ‘n eenmansaak of as aandele in ‘n maatskappy) in jou persoonlike testament bemaak. In jou besigheidstestament kan jy praktiese aanwysings aan jou erfgename – ook aan jou sakevennote en bestuurders – nalaat oor hoe om die oorgang te hanteer.

Sonder duidelike aanwysings mag jou geliefdes dalk geen idee hê oor hoe om jou sake prakties te hanteer nie. As verwarring en geskille na jou afsterwe ontstaan, kan dit jou besigheid as nalatenskap benadeel of selfs vernietig.

Deel gerus jou aanwysings en riglyne in ’n afsonderlike “Notas”‑dokument wat jou persoonlike testament sal aanvul, moet dit eerder nie ‘n “besigheidstestament” noem nie. Wat regtig sinvol is, is ’n opvolgplan vir jou besigheid; noem dit jou besigheid se “Opvolgplan” en struktureer dit sorgvuldig.

Die konsep van ‘n “Etiese testament”

Die “Etiese testament”, is ‘n onlangse verskynsel wat meer algemeen in die buiteland voorkom. Dit het geen regsgevolge nie en handel nie oor jou bates nie; dit dokumenteer eerder jou persoonlike nalatenskap wat jy aan toekomstige geslagte wil oordra.

Jy kan dalk ’n “Nalatenskapsbrief” agterlaat waarin jy jou persoonlike waardes, oortuigings en lewenslesse met jou nageslag deel, jou familiegeskiedenis opteken en persoonlike boodskappe aan individuele familielede nalaat. Dit is ’n sinvolle manier om jou erfgename aan te moedig om hul lewens ten volle uit te leef, terwyl hulle die materiële rykdom wat hulle by jou mag erf, sal bewaar en geniet.

Jou “Lewende testament” of “mediese aanwysings”

Jou “Lewende testament” of “vooraf mediese aanwysings” het niks te doen met die nalaat van bates aan erfgename, of die aanstelling van eksekuteurs, voogde of trustees van familietrusts nie.

Dit is die uitdrukking van jou wense oor gesondheidsake en die instruksies aan jou familie en mediese versorgers oor die tipe mediese ingryping, indien enige, waartoe jy instem en toestemming verleen, vir wanneer jy self nie meer sinvol kan kommunikeer nie.

Die regstatus hiervan word soms nog bevraagteken. In die regte lewe geniet die lewende testament en skriftelike aanwysings oor mediese behandeling vir jare al aansienlike professionele steun. Dit kan jou geliefdes bystaan en aan hulle duidelikheid verskaf in die laaste dae en hulle lei en troos wanneer hulle dit die nodigste het. Moet die opstel daarvan nie uitstel totdat dit te laat is nie.

Vir enige bystand of leiding, kontak asseblief ons departement vir Testamente en Boedels.