Die woord “mede-eienaarskap” met betrekking tot grond beteken dat twee of meer persone ‘n stuk grond gelyktydig in onverdeelde aandele besit. ‘n Aandeel in die grond beteken nie dat ‘n bepaalde gedeelte van die grond besit word nie. ‘n Mede-eienaar wat ‘n aandeel in grond hou, kan nie aanspraak maak op ‘n bepaalde stuk grond nie, selfs al het sy mede-eienaars by wyse van ‘n ooreenkoms ingestem om okkupasie of gebruik van ‘n bepaalde stuk grond aan hom te gee. Die reg wat hy het, is op ‘n onverdeelde aandeel in die geheel van die grond wat in gesamentlike eienaarskap gehou word. Die gedeelte wat hy okkupeer, word gesamentlik besit deur hom en sy mede-eienaars in die grond. Indien hy ‘n huis bou op die gedeelte wat hy okkupeer, sal die huis gesamentlik besit word deur al die eienaars.
Wanneer X, Y en Z mede-eienaars van ‘n plaas is, is hulle nie geregtig op ‘n fisiese deel van die plaas nie, maar elkeen van hulle het ‘n onverdeelde aandeel in die geheel van die plaas. Die aandeelhouding sal nie noodwendig altyd gelyk wees nie. Een persoon kan ‘n halwe aandeelhouding besit, terwyl die ander twee eienaars elk ‘n vyf en twintig persent aandeel kan hou. Mede-eienaarskap kan ongelukkig soms tot geskille tussen die eienaars lei.
Samewerking tussen die mede-eienaars
Dit is raadsaam dat die mede-eienaars ‘n ooreenkoms aangaan wat die verhouding tussen hulle reguleer. Ongelukkig is hierdie ooreenkoms nie afdwingbaar teenoor derde partye nie. Die toestemming van al die mede-eienaars word vereis wanneer administratiewe besluite geneem moet word. Geen eienaar is geregtig om veranderings of verbeterings op die eiendom aan te bring sonder die toestemming van die ander eienaars nie. Al die eienaars moet saamstem oor die gebruik van die eiendom, byvoorbeeld indien hulle bome wil afkap, ’n stoorfasiliteit of -gebou wil oprig of beeste in die veld wil laat wei. As mede-eienaars nie in besluite geraadpleeg word nie kan hulle die hof nader om ‘n interdik toe te staan. Die hof kan selfs gelas dat geboue wat opgerig is, verwyder word. In gevalle waar die doel is om die eiendom te bewaar, is dit egter nie altyd nodig om die toestemming van die mede-eienaars te verkry nie.
Die winste en verliese
Al die mede-eienaars moet proporsioneel bydra tot noodsaaklike en ook nuttige uitgawes vir die bewaring van die eiendom. Dié uitgawes sluit in belasting en uitgawes om die eiendom in ‘n goeie toestand te hou, maar sluit nie luukse uitgawes in nie. Verliese en koste moet deur die mede-eienaars gedeel word, behalwe waar dit toegeskryf kan word aan nalatigheid van een van die eienaars. Soos met uitgawes, moet vrugte en winste verdeel word onder die mede-eienaars volgens elke eienaar se aandeelhouding.
Vervreemding van ‘n aandeel
‘n Mede-eienaar kan sy aandeel vervreem of selfs aan sy erfgename bemaak, sonder die toestemming van die ander eienaars, selfs teen hulle wil. Die balju kan ook beslag lê op ‘n mede-eienaar se aandeel.
Gebruik van die eiendom
Elke mede-eienaar kan die eiendom gebruik in ooreenstemming met sy onverdeelde aandeel. Hy moet dit egter gebruik met inagneming van die regte van die ander mede-eienaars. Elke mede-eienaar, sy werknemers en gaste, is geregtig op vrye toegang tot enige deel van die eiendom, behalwe as die mede-eienaars ooreengekom het dat ‘n gedeelte van die eiendom vir die uitsluitlike gebruik van ‘n mede-eienaar gereserveer word.
Fisiese verdeling
Mede-eienaars kan besluit om die eiendom te verdeel, wat gewoonlik gebeur as hulle nie oor die benutting van die eiendom kan saamstem nie. Die eiendom sal dan fisies verdeel word in ooreenstemming met die waarde van die eiendom en elke mede-eienaar se aandeel daarin. Wanneer dit egter nie ekonomies is nie, wat gewoonlik die geval is met ‘n plaas, kan die eiendom toegeken word aan ‘n mede-eienaar, maar hy moet dan die ander mede-eienaars vergoed. Die hof kan ook beveel dat die eiendom op ‘n openbare veiling verkoop word en die opbrengs onder die mede-eienaars verdeel word. Daar is streng statutêre beheer oor die onderverdeling van grond en die gebruik daarvan, wat die onderverdeling nie altyd moontlik maak nie.
Mede-eienaarskap is een van die maniere hoe mens eienaar kan word van ‘n eiendom wat andersins nie bekostig kan word nie. Wees egter bewus van die slaggate, kies jou mede-eienaars oordeelkundig en stel ‘n ooreenkoms op om die onderlinge verhouding tussen die partye te reël ten opsigte van onder andere die betaling van die verband en erfbelasting, die dag-tot-dag uitgawes, asook die huisreëls.
Hierdie artikel is ‘n algemene inligtingstuk en moet nie gebruik of staatgemaak word op as professionele advies nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of vir enige verlies of skade wat voortspruit uit vertroue op enige inligting hierin nie. Kontak atyd jou finansiële adviseur vir spesifieke en gedetailleerde advies.
Cookie | Duration | Description |
---|---|---|
cookielawinfo-checkbox-analytics | 11 months | This cookie is set by GDPR Cookie Consent plugin. The cookie is used to store the user consent for the cookies in the category "Analytics". |
cookielawinfo-checkbox-functional | 11 months | The cookie is set by GDPR cookie consent to record the user consent for the cookies in the category "Functional". |
cookielawinfo-checkbox-necessary | 11 months | This cookie is set by GDPR Cookie Consent plugin. The cookies is used to store the user consent for the cookies in the category "Necessary". |
cookielawinfo-checkbox-others | 11 months | This cookie is set by GDPR Cookie Consent plugin. The cookie is used to store the user consent for the cookies in the category "Other. |
cookielawinfo-checkbox-performance | 11 months | This cookie is set by GDPR Cookie Consent plugin. The cookie is used to store the user consent for the cookies in the category "Performance". |
viewed_cookie_policy | 11 months | The cookie is set by the GDPR Cookie Consent plugin and is used to store whether or not user has consented to the use of cookies. It does not store any personal data. |