Saamwoon. Wat sê die wet? Kry jou sake goed agtermekaar.

“Al wat jy nodig het, is liefde … en ’n goeie prokureur.” (Anoniem)

In Februarie, die maand van romanse wil mense fokus op Valentynsdag, sjokolade, rooi rose, vonkelwyn, groot bederf en verklarings van ewige liefde. Dan is ons regsposisie rondom verhoudings minder in die voorgrond. In die regte wêreld is liefde en die reg onlosmaaklik verbind. Elke verhouding se struktuur en gevolge word deur regsbeginsels bepaal. As jy jou met hierdie werklikheid misreken, stel jy jouself bloot aan onnodige angs, geskille en litigasie.

‘n Onlangse dispuut in die Hooggeregshof tussen ‘n vervreemde paartjie oor hul droomhuis wat hulle gesamentlik gekoop het, illustreer die uitdagings.

Drome in skerwe en ‘n twis oor die huis.

’n Paartjie se romantiese verhouding het vier jaar geduur. Hulle het aanvanklik saam in haar ma se huis gewoon, waarna hulle twee saam in sy woonstel gewoon het. Hierna  het hulle die groot stap geneem om saam ’n huis te koop, ook met die doel om hul verhouding meer permanent te vestig.

Ongelukkig het dinge toe nie so uitgewerk nie. ’n Maand na die aankoop van die eiendom het hul verhouding tot ‘n einde gekom. Net een van hulle het in die huis ingetrek en het ook al die kostes en uitgawes van die huis betaal. Dit terwyl die partye oor hul volgende stappe besin het.

Met tyd het hulle hewig verskil oor hoe om hul mede-eienaarskap van hul huis te beëindig en hoe om hul onderskeie eise vir aangegane en toekomstige eiendomskoste tussen hulle te bereken.

Hul dispuut is in die Hooggeregshof aangehoor. Die hof het begin met die formele bevel dat hul mede-eienaarskap van die huis beëindig moet word. Dit was nodig, want geen mede-eienaar kan teen sy of haar wil gedwing word om ‘n mede-eienaar te bly, indien die verhouding tussen die mede-eienaars so versleg het dat dit onhoudbaar tussen hulle is nie.

Die hof gebruik ‘n Romeinse regsmiddel wat vandag nog in gebruik is (die “actio communi dividundo“), om beide die verdeling van die eiendom en die finansiële eise van die onderskeie eienaars te hanteer. Hierdie eise was ingewikkeld en verweef na jare se saamwoon.

Die hof bevestig ‘n moderne verskuiwing weg van die tradisionele beginsel dat die eiendom noodwendig per openbare veiling aan die hoogste bieër verkoop moet word. Die hof ondersteun ’n meer buigsame benadering met die hof se wye diskresie om in elke geval ’n billike en praktiese uitkoms tussen die partye te verseker.

Die hof oorweeg die omstandighede, wense en eise van beide die partye. Die hof beveel dan dat die gewese lewensmaat wat in die huis woon, ‘n eerste opsie het (geldig vir 60 dae) om die ander se halwe aandeel teen markwaarde volgens waardasie oor te koop. Indien hy dit nie doen nie, moet hy dit teen ‘n billike en redelike markverwante prys op die ope mark te koop aanbied. Indien daar na ses maande steeds geen verkoop realiseer nie, maak die hofbevel voorsiening dat die Balju van die Hooggeregshof as “ontvanger en likwidateur” optree en het dan vier maande om die huis op te veil. Ingevolge die bevel moet die huisverband, die regskostes en die partye se verwante finansiële eise dan uit die opbrengs van die transaksie vereffen word.

“Mede-eienaarskap is die moeder van geskil” – maar dit hoef nie so te wees nie.

“Communio est mater rixarum” word ook in die uitspraak vermeld. “Mede-eienaarskap is die moeder van geskil” is die ander Romeinse regskonsep waarna die hof verwys. Dit bevestig dat mede-eienaarskap eeue gelede al erken is as die oorsaak van onstabiliteit en van geskille tussen eienaars.

Dit hoef nie altyd die geval te wees nie. ‘n Geskrewe ooreenkoms tussen die mede-eienaars, of dit nou ‘n suiwer kommersiële of ‘n persoonlike verhouding is, sal beslis die risiko van latere onsekerheid, meningsverskille en litigasie aansienlik verminder.

Maak jul ooreenkoms so volledig as moontlik. Sluit die duidelike proses in oor hoe die mede-eienaarskap beëindig sal word, indien dit nodig word. Litigasie bring altyd vertraging, koste en onsekere uitkomste mee, daarom wil mens dit nooit ligtelik aanpak nie. Soos die hof ook uit ‘n vorige beslissing aanhaal “‘n hof kan ook nie wonderwerke verrig nie”. ‘n Hof is verplig om sover moontlik die billikste uitkoms vir beide partye te bewerkstellig. As die geskil egter in geheel vermy kan word, is dit altyd ‘n beter opsie vir beide partye.

Moenie jou saamwoon-ooreenkoms vergeet nie.

Net ‘n laaste gedagte. As jy saam met jou lewensmaat woon, moet julle beslis ‘n volledige saamwoon-ooreenkoms met mekaar aangaan. Daarin hanteer julle dan die reëlings oor mede-eienaarskap, maar ook al die ander finansiële en persoonlike aspekte van julle verhouding wat normaalweg vir julle deur ons huwelikswette hanteer sou word.

Vir meer inligting, kontak ons Familiereg-afdeling.